Radikaal in Christus

Radikaal in Christus

Christenskap is radikaal. In die goeie sin, nie soos die Moslem  “radicals” nie, maar radikaal in die sin van dat om Jesus te volg en Sy dissipel te wees, is radikaal. Kom ek wys jou:

Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.” Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.” Aan ’n ander een sê Hy: “Volg My.” Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.” Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.” Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.” Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” Lukas 9:57-62

Om ‘n volgeling van Jesus Christus te wees beteken dat ons Jesus, Sy Koninkryk en die evangelie eerste moet prioritiseer. In die teks hierbo sien ons drie tipe dissipels wie sukkel om ‘n toewyding teenoor Jesus te maak. Die eerste een gaan sy huis mis en sal nooit 100% tuis voel totdat die dag wat hy sterf nie. Die ander een wil eers sy pa gaan begrawe en Jesus sê vir hom dat hy Jesus bo sy familie moet prioritiseer. Hy wou eers wag totdat sy pa sterf voordat hy Jesus volg en agter hom aan gaan. Die laaste persoon wou eers sy familie totsiens gaan sê voordat hy Jesus begin volg het. Jesus het sy dissipels geroep en gesê, “volg my” (Mk. 2:14). Hulle het gelos waarmee hul besig was en dadelik agter Hom aangeloop. Dit was ongelooflik radikaal gewees!

Toepassing

Wat is daar wat jy nog eers aan vashou of wat jou keer om Jesus voluit te volg en om God se Woord te gehoorsaam? Dalk wil jy eers wag voordat jy afstand doen van sekere vriende of ‘n sekere lewenstyl… dalk wil jy eers nog genoeg geld maak en hard werk… wat ook al daar is wat jy aan vashou: dit is nie naastenby die moeite werd nie! Maak ‘n besluit om Jesus 100% te volg, om 100% toegewyd aan Hom te wees en om Hom en die evangelie eerste te plaas in jou lewe!

Die Here seën,
Riaan