Is Christene verplig om te deel?

Is Christene verplig om te deel?

Het jy al gesien hoe klein kindertjies met mekaar baklei oor wie se speelgoed is wie s'n? Die een wil al die speelgoed vir homself hê en wil nie sy speelgoed met die ander kind deel nie... Mamma of Pappa moet dan in tree en mooi verduidelik dat die speelgoed gedeel moet word. Het jy dit al opgelet of self al gesien?

Daar is iets interessants te siene in die mensdom van 'n baie vroeë ouderdom af... ons is baie keer selfsugtig en wil nie ons speelgoed deel nie. Hierdie eienskap is nie net by klein kinders van toepassing nie, maar baie keer by volwassenes ook! Ek is darem gelukkig, of dalk bevoorreg, dat ek en my suster nooit regtig baklei het as kinders nie. Ons het redelik goed oor die weg gekom, maar ons wou dalk nie altyd ons mees waardevolste besitting met die ander persoon gedeel het nie - dalk was ons bang die ander een breek of beskadig dit, of dalk was ons net besitlik.

Wanneer dit kom by buurman stories, dan hoor ons ook gereeld van die een of ander storie van 'n buurman wat iets geleen het en nie terug gebring het nie, so die persoon wat die storie vertel, deel nie weer sy goed uit nie. Dit is heel verstaanbaar en ek kan myself insien hoekom menigte mense nie hul goed vir iemand anders sal leen nie... maar hoe behoort Christene se gesindheid te wees as dit daarby kom om dinge vir ander te leen?

'n Toffie om aan te kou

Ek het onlangs op 'n Bybelvers afgekom wat my verstand vir 'n oomblik laat vashaak het. Dit het gevoel asof my brein vir 'n oomblik "glitch". Lees self:

"Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.” - Matt. 5:42

Ja! Jy het reg gelees. As iemand vra om iets by jou te leen, moet hul nie afwys nie. Jesus is besig met Sy bergpredikasie en Hy leer vir die mense dat as iemand ets van ons vra en by ons wil leen, dan moet ons hulle nie afwys nie. "Maar Riaan, hierdie vers praat tog nie van enigiemand en enige situasie nie??" Wel, ek dink dit doen. Kom ek verduidelik:

Jesus is besig om te praat oor hoe Christene behoort op te tree wanneer hulle dalk vergelding sal wil hê vir ongeregtighede, maar dat hulle eerder "die ander wang moet draai" (Matt. 5:39). Hoekom sal Jesus dit sê? Wel, as ons Lukas 6:34-36 lees dan gee dit vir ons 'n bietjie meer duidelikheid:

"En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ’n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” - Luk. 6:34-36

Hier is dit 'n bietjie meer duidelik. Dit kom daarop neer dat die Here Jesus verwag dat ons vrygewig, goedgesind, mededeelsaam en genadig sal wees. As ons net goed doen, aan die wat dit verdien, watter loon hou dit vir ons in? Dit kos ons dan niks nie. Geen opoffering is nodig nie, maar Jesus versoek juis dat ons die ekstra myl sal gaan en genadig en vrygewig en gasvry sal wees - selfs teenoor ons vyande!

So wat nou?

Alles wat ek en jy besit, kom van die Here af; dit behoort klaar aan Hom. As iemand vra om by ons geld te leen, of om iets te gebruik en dit is binne ons vermoë om dit te kan gee - dan behoort ons. Die Bybelvers gun ons nie eintlik die gemak om ons eie voorwaardes te bepaal waarvolgens ons sal besluit of ons wel iets gaan uit leen of nie... Wat die verse wel doen, is om ons uit te daag om ons eie gesindheid te toets teenoor ander en teenoor ons besittings.

Nogals 'n taai toffie daai een né?!

Seënwense,
Riaan

>>> As jy enige ander verse het wat jy graag sal wil bylas of as jy 'n ander "angle" op hierdie vers het, stuur groot asseblief vir my 'n epos by watjywaarkry@gmail.com of vul die kontak vorm in. Ek hoor graag van jou.