Beproewings is mos lekker!

Ek dink daar is min mense wat werklik uitsien na beproewings, maar ek glo dat ons as Kinders van die Here nie moet bang wees vir beproewings nie.

Beproewings is mos lekker!

Beproewings is baie lekker! Stem jy nie saam nie? Dit is lekker om swaar te kry en te sukkel, dit is lekker om angsbevange te wees, dit is lekker om onsekerheid te hê vir wat vorentoe gaan gebeur en dit is lekker om te weet ons word soos ‘n tandepasta buisie gedruk… of hoe?

Ek dink daar is min mense wat werklik uitsien na beproewings, maar ek glo dat ons as Kinders van die Here nie moet bang wees vir beproewings nie. Ja, beproewings is nie maklik of lekker nie, maar as ons weet wat die doel van beproewings is dan sal dit ons in staat stel om dit in ‘n positiewe lig te sien.

Voordat ons kyk na hoe ons beproewings moet hanteer en hoe God en die Bybel ons daarmee help dan moet ons besef dat daar twee tipe beproewings is.

2 Tipe Beproewings

Daar is baie beproewings wat ons deur die loop van die lewe ervaar en ons kom dit op ‘n daaglikse basis teë. Alhoewel beproewings in baie verskillende vorme kan kom, is daar basies 2 tipes.

Die eerste tipe beproewing kom van God af en die doel van hierdie beproewings is altyd om ons geloof te versterk. Dit is positief omdat dit ons help om Geestelik te groei en volwasse te word. Dit kweek volharding en help ons om sterk te staan wanneer beproewings oor ons pad kom. Ons lees dat ons moet uitsien na die eerste tiepe beproewing:

“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” Jak. 1:2-4

Nog ‘n voordeel van hierdie tiepe beproewings is dat dit ons in staat stel om ander te kan bemoedig wat deur beproewings gaan. Paulus beskryf dieselfde gedagte wanneer hy na die lewe van die apostels verwys:

“As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.” 2 Kor 1:6

Ons lees ook van die tweede tiepe beproewing in Jakobus:

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.” Jak 1:12

Die tweede vorm van beproewing word as ‘n versoeking beskryf. Dit is van Satan af en die doel van hierdie beproewing is om ons in sonde in te lei. Dus word die woord versoeking eerder gebruik. Beproewinge en versoekinge beteken basies dieselfde, maar die eerste het ‘n positiewe konnotasie en die tweede negatief.

Dieselfde Griekse woord word vir beide beproewing (Jak 1:2) en versoeking (Jak 1:12) gebruik en dit is πειρασμός (peirasmos). Dit kom van ‘n werkwoord om te toets af. Soos ons die Bybel lees, dan lees ons dat ons op verskillende maniere getoets word, maar dat die toetse verskil.

Jakobus het heel moontlik ingesien dat ons die twee dalk kan verwar en daarom maak hy dit duidelik dat as ons ‘n negatiewe toets (soos versoekings) in die gesig staar, dat dit nie van God af kom nie.

“Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.” Jak. 1:13

Daar is hoop

Dit maak my bly om daaraan te dink dat wanneer dinge skeefloop en ek beproef word dat dit ‘n geleentheid is om te groei en om te volhard. As dit van die Here af kom, dan kan ek uitsien daarna omdat dit tot my voordeel is.

Maar watter belofte hou daar vir my in as ek versoek word? Moet ek daarna ook uitsien? Ja, ek moet! Dit is ‘n geleentheid om standvastig te bly, en die standvastigheid sal God se seën in my lewe dra, maar ek kan ook hoop hê omdat ek weet God belowe dat geen versoeking te veel sal wees nie:

“Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” 1 Kor. 10:13

Vriende, staan sterk in beproewings en versoekinge. Hou jou oë op God gerig en moet nie die duiwel ‘n houvas in jou lewe gee nie. As jy die toets deurstaan, sal jy nie net jouself red nie, maar jy sal in staat wees om ander te kan bemoedig wat deur beproewings gaan.

Seënwense,
Riaan