Adam en Eva het nie regtig van 'n Appel boom geëet nie

Adam en Eva het nie regtig van 'n Appel boom geëet nie

Ek hoor so baie Christene wat glo dat Adam en Eva van ‘n Appel boom geëet het, maar ongelukkig is dit nie waar nie. Dit is net ‘n mite.

Dit is ‘n mite, want eintlik weet ons glad nie watter tipe boom of vrug dit was nie. Ek weet nie of jy al ooit opgelet het nie, maar die Bybel sê nie vir ons dat dit ‘n Appel boom of enige tipe boom was nie behalwe dat dit ‘n boom was, met vrugte en hierdie boom was die boom van kennis van goed en kwaad.

“Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.” Gen. 2:9

Voorstelle vir watter vrug dit kon wees

Daar is ‘n paar voorstelle of teorieë oor watter vrug dit kon gewees het. Dit is tipies in die Westerse wêreld waar mense dink dit was ‘n Appel gewees. Ander voorstelle is dat dit dalk vye was, omdat Adam en Eva kort nadat hulle die vrug geëet het klere van vye blare gemaak het (Gen. 3:7). Ander dink weer die vrug was ‘n granaat gewees. Moontlik omdat dit ‘n bekende vrug was in die streek waar ons glo die Tuin van Eden moontlik kon gewees het. Daar is ook ‘n voorstel dat dit druiwe was, as gevolg van die Boek van Enoch (‘n boek wat nie as deel van die Bybel aanvaar word nie) wat die vrug beskryf as iets soortgelyk aan druiwe. Twee ander voorstelle is graan en sampioene.

So hoe nou?

Gaan lees die verse in Genesis 2 weer self deur en kyk of jy kan sien watter tipe vrug dit is. Jy gaan waarskynlik nie sien dat dit ‘n Appel of iets is nie, maar net as ‘n vrug beskryf word. Volgende keer gaan jy vinnig oplet as iemand anders na dit verwys as ‘n Appel

Seën vir jou,
Riaan