Praise & Worship is Gevaarlik!

Die meeste van ons het al deelgeneem aan praise & worship. Dit was lekker, né? ‘n Lewendige orkes, bekende liedere en ‘n opgeruimde atmosfeer – wat meer wil ‘n mens dan nou hê om die Here te loof en prys? Dit is immers in lyn met wat die Skrif sê oor lofprysing.

As praise & worship dan, soos ons dit ken, in lyn met die Skrif is, hoe kan dit gevaarlik wees? Die wysies is catchy en die woorde al deeglik ingeoefen. Ons ken sommige van die liedere al so goed dat ons dit van agter na voor ook sal kan sing! Hoewel dit goed is om praise & worship liedere uit ons kop te ken, bring dit ‘n inherente gevaar mee: ons sing outomaties sonder begrip.

Dink byvoorbeeld aan die bekende Bethel-verwerking van die lied It is Well.

Far be it from me to not believe, even when my eyes can’t see...
...Through it all, my eyes are on you, through it all it is well, it is well with my soul...

Dit is diep, kragtige woorde, maar glo ons dit werklik? Of blaker ons dit bloot uit omdat ons meegevoer raak tydens praise & worship? As die lewe moeilik raak en ons tot breekpunt druk, kan ons dan ook sê “so let go my soul and trust in Him, it is well with my soul”? Of probeer ons op ons eie menslike vermoëns staat maak om dinge reg te ruk?

Dink byvoorbeeld ook aan die lied “In die Hemel is die Heer”.

En aan U is die eer en die lof want U regeer
U regeer in ons harte
U regeer oor die heelal
U regeer in ons lewens
U regeer bowenal

Weereens kragtige woorde, maar wys ons lewens dat die Here in alle aspekte van ons lewens regeer? Onderwerp ons ons harte en lewens volkome aan die Here se regering, of is dit maar net woorde wat in die oomblik gelug word?

Ons sien in Matteus 15:8 en Markus 7:6 dat Jesus ‘n afkeur van valse aanbidding het waar Hy sê: “[h]ierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle harte is ver van My af.” Tydens praise & worship lyk dit asof iemand aan die brand is vir die Here. Die persoon sing uit volle bors en met oorgawe “U regeer in ons lewens”, “hallelujah in my hart”, “my eyes are on You”! Tog sien ons dat dieselfde persoon daardie einste woorde weerspreek deur hul lewenstyl. Dit is hartseer, want dit wys dat daardie persoon die Here kunsmatig eer - slegs met lippetaal en nie met hul hart (gees) nie (Johannes 4:24).

Ons moet dus versigtig wees dat ons nie in die strik trap waar ons bloot outomaties saamsing sonder enige begrip nie. Iemand sal tog nie vir Here iets sê of iets bid wat hy of sy nie werklik bedoel nie. Hoekom sing ons woorde tot Hom tydens praise & worship wat ons nie werklik bedoel nie en wat deur ons dade weerspreek word? Dit is nie vir die Here aanneemlik nie (Matteus 15:8; Mark 7:6; Titus 1:16).

Hoe behoort ek dan te praise & worship?

  1. Besef dat praise & worship nie karaoke is nie; dit ‘n eerlike gesprek met God (Efesiërs 5:19).
  2. Fokus op die woorde wat jy sing en sing dit met begrip sodat jy verstaan wat jy vir God sê (Matteus 15:8; Markus 7:6).
  3. Doen dit wat jy sing! Gee betekenis aan jou woorde en diepte aan jou getuienis deur te doen wat jy sing (Jakobus 1:22).

Mag jy uitgedaag wees om bogenoemde drie punte in gedagte te hou wanneer jy weer praise & worship, sodat die lirieke van Tell the World ook waar is van jou lewe: “Don't want to stand here and shout Your praise, and walk away and forget Your Name.”