Wou Jesus Lazarus dood gehad het?

Wou Jesus Lazarus dood gehad het?
Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. (Joh 11:6)

Die kort antwoord, nee... lang antwoord, wel, ja... en nee. As ek nou moet bieg, Joh 11:6 het my altyd so effens laat rondskuif in my sitplek. Wat my gepla het was die feit dat Jesus, nadat Hy gehoor het dat Lasarus (dodelik) siek is, nog steeds gebly het waar Hy was...vir ‘n verdere 2 dae! Asof Hy gewag het vir Lasarus om te sterf. Ek het nou wel v5 gelees waar Jesus sê:

...hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God...

Ok, fair deal... Jesus het geweet wat kom, maar was dit nodig om 2 dae te wag? Ons lees in v17 dat Lasarus alreeds 4 dae lank dood was teen die tyd wat Jesus by hom aangekom het. Met baie komplekse wiskundige vergelykings kon ek bereken dat Jesus ten minste 2 dae se reis weg van Lasarus was, wat beteken dat, sou Jesus direk gereis het die oomblik wat Hy te hore gekom het van Lasarus se siekte, sou Lasarus in elk geval dood gewees het. Jesus kon nog steeds Sy wonderwerk doen en die dooie Lasarus opwek uit die dood...so hoekom het Jesus 2 addisionele gewag?

Volgens Dr Eli Lizorkin-Eyzenberg, ‘n Joods-gebore Christen, is daar meer weggesteek in hierdie verhaal as wat ek altyd gedink het - die sleutel lê in die kultuur en geskiedenis van die Jode van daardie tyd. Interessant genoeg, in die tyd wat Jesus geleef het as mens hier op aarde het die Jode ‘n sekere geloof gehad rondom die afsterwe van ‘n persoon, spesifiek rondom die tydperk nadat ‘n persoon sy laaste asem uitgeblaas het. As ons kyk na die (Jerusalem) Talmud, sê Yebamot 16:3 die volgende:

Vir die eerste drie dae na die dood dryf die siel bokant die liggaam en dink dat dit na die liggaam sal terugkeer. Wanneer die siel die liggaam sien, dat die voorkoms van die gesig verander het, verlaat dit die liggaam en gaan sy weg.

Wat beteken dit? Die Jode het eenvoudig ‘n geloof gehad dat die persoon binne die eerste 3 dae na sy dood nog dalk kon wakker word, omdat sy siel nog teenwoordig sou wees en die liggaam sou herken om terug te gaan. Opstanding sou dalk oproer veroorsaak, maar nie volgens hul heeltemal onmoontlik wees nie. Eers na die derde dag wanneer die liggaam begin ontbind het, herken die siel nie meer die liggaam nie en sou opstanding dus onmoontlik wees (nou begin dinge interessant raak).

Kom ons kyk vinnig na v39, toe Jesus opdrag gee om die klip voor die graf weg te rol:

...maar Marta, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: ‘Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.’

Begin dinge nou bymekaarkom? Sy sê “hy ruik al” (het al begin ontbind) en “dis is al die vierde dag” (drie dae is verby, siel is weg). Jesus antwoord haar:

“Het ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

Jesus roep toe: “Lasarus, kom uit!” en Lasarus staan op uit die dood! Op die vierde dag al! Volgens die geloof van daardie tyd, onmoontlik! Wie is die Jesus van wie ons hier lees, dat Hy die onmoontlike doen? Eenvoudig, in Sy eie Woorde:

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook” (Joh 11:25)

Jesus maak ‘n baie sterk stelling hier, in beide woord en daad - nie dat Hy mag het om uit die dood te kan laat opstaan nie, maar eerder dat Hy die Opstanding self is!
Jesus se woorde in Joh 11:25 resoneer baie met Sy woorde in Joh 14:6 waar Hy sê:

“Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe.”

Hierdie verhaal is vir my altyd ‘n herinnering dat God die God van die onmoontlike is, en soos die Jode se Talmud - die "God van die vierde dag"!

Sien oorspronklike artikel hier: https://kehilanews.com/2016/10/05/why-did-jesus-wait/