Wie se huis bou jy?

Wie se huis bou jy?

Soos almal weet was die Israeliete nie engeltjies nie en moes God gereeld intree om hulle na Hom toe terug te bring in gehoorsaamheid. Israel se gebrokenheid en al hulle foute gee ons egter die geleentheid om met hulle te vereenselwig. Want net soos hulle, het ons ook baie foute en moet ons gereeld regstellings maak. Daarom kan ons die Here se boodskap aan die Israeliete ook op ons van toepassing maak en baie daaruit leer.

Die Israeliete het a.g.v. hulle ongehoorsaamheid in Ballingskap beland, maar God, wat barmhartig en genadig is, het hulle na baie jare daaruit gered. Die volk het toe terug gegaan na hulle stad toe en dit begin herbou, hulle het hulle huise mooi gemaak en die landerye weer op die been gekry.

Die Here was teleurgesteld in die volk se toewyding en stel toe die vraag deur Sy profeet Haggai:

“Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl My huis in puin lê?” Hag 1:4

Nou die Israeliete was so daarop gestel om hulle eie huise te herbou en pragtig te versier, dat hulle die Here se huis heeltemal verlate gelos het. Hulle prioriteite was nie by die dinge van die Here nie, maar hulle eie hartsbegeertes.

Na al die jare moet ons onsself steeds die vraag vra… Wie se huis, bou ek? Is ek besig om rykdom bymekaar te skraap, of brei ek die Here se Koninkryk uit? Is ek besig om eer en lof te soek of bring my lewe eer en lof aan die Here? Wie se huis is ek besig om te bou?

Die dinge waaraan ons ons tyd spandeer is ‘n weerspieëling van waar ons prioriteite lê. Vanuit die boodskap van die Here kan ons sien dat Hy die belangrikste in ons lewens wil wees. Hy wil hê ons moet ons verhouding met Hom eerste prioriteit maak in ons lewens! Hy smag na ‘n persoonlike verhouding met elkeen van ons, soveel so dat Hy Sy enigste Seun vir ons gestuur het om vir ons die prys te betaal sodat elkeen wat in Hom glo kinders van God kan wees.

Ons is nou kinders van God! Daarom vereis die Here onverdeelde trou aan Hom (Deut 6:15). Net soos wat Jesus daagliks tyd gemaak het vir Sy Vader en Sy lewe toegewy het om die Here se wil te doen en Sy koninkryk uit te brei, moet ons ook tyd maak om by die Here uit te kom. Ons leer die Here en Sy wil ken deur die Woord te bestudeer en na Hom te bid. Dan moet ons ook dit wat ons leer gaan toepas in ons daaglikse handel en wandel, ons moet in gehoorsaamheid aan die Here, ons Vader, lewe.

Die Here is ons vervulling

Die Here se boodskap in Haggai het egter nie daar gestop nie. Hy gaan verder in vers 6 en sê:

“Julle het baie gesaai, maar min geoes; julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie; julle het gedrink, maar dors gebly; julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie” en dan sluit Hy die vers af met ‘n baie interessante vergelyking: “julle is soos ‘n dagloner wat sy loon in ‘n stukkende beursie steek” Hag 1:6

Die Here sê hier dat maak nie saak hoe hard ons probeer om sukses na te jaag nie, en maak nie saak hoeveel aardse dinge ons bymekaarmaak nie, of dit nou geld is, duur karre, mooi huise, dit gaan ons nie vervul nie! Slegs die Here kan ons vervul! Dit was omdat die Israeliete nie die Here se belange ter harte geneem het nie, dat hulle heeltyd ontevrede en onvervuld was. (Hag 1:9)

Jesus sluit aan by hierdie punt in Matt 6:33 waar Hy sê:

“… beywer julle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle al hierdie dinge gee.” Mat 6:33

Dit is ‘n amazing belofte! As ons Sy wil en Sy koninkryk eerste nastreef, sal Hy vir ons sorg! Ons hoef nie te bekommer oor wat ons gaan eet, of drink, of aantrek nie. Die Here weet klaar wat ons nodig het en Hy sal voorsien.

Die Here is getrou en in staat!

Saam met dit moet ons ook onthou dat die Here by magte is om vir ons te voorsien. Hy kan baie beter voorsien as wat enige van ons vir onsself kan voorsien! Alles behoort aan Hom en Hy kan dit vrylik gee aan wie ookal Hy wil. Ons is beperk in hoe ons vir onsself kan voorsien. Ons raak siek, kom in ‘n ongeluk, of ons werkgewer betaal net nie; life happens. Maar God, staan bo al hierdie dinge en word nie daardeur beïnvloed nie. By die Here kan ons daarom verseker weet dat ons genoeg sal hê.

Paulus skryf aan Timoteus in ‘n brief en sê dat die geloof baie werd is vir die wat tevrede is met wat hulle het (1 Tim 6:6). Die stelling is vir my veral bemoedigend omdat dit vir my sê dat die lewe nie gaan oor besittings en rykdom nie. Dit maak nie saak hoeveel geld ek het, hoe groot my huis is, of hoe duur my kar is nie. Daar is iets veel beter om op te fokus en aan tyd te spandeer as hierdie materiële dinge en dit is die Here en Sy koninkryk. Die Here is die een wat ons vervul, Hy vervul ons op ‘n manier wat ons nie self kan nie.

Daarom, moenie jou vertroue en vreugde in die wêreldse dinge soek nie, soek dit by die Here. Doen die dinge wat Hom sal bevredig, bou aan Sy koninkryk, spandeer tyd met Hom, in Sy Woord en in gebed, maak die Here eerste prioriteit in jou lewe, bou aan God se huis. Kweek so ‘n goeie lewenswyse wat getuig van Jesus en Sy reddingsdade, sodat elke persoon wat jou raakloop, deur jou aksies en woorde opgebou en bemoedig kan word in die Here Jesus Christus!

“Laat julle lewenswandel dan in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” Efes 4:1-2

Chris van Schalkwyk.