Wat van die Jode?

Wat van die Jode?

Ons as Christene het tog so ‘n sentimentele liefde vir Israel, nê? …ons wil almal seker graag eendag Israel toe gaan en gaan kyk waar Jesus geleef het; ons wil soos Paulus in die stadion van Cesaerea staan en uitkyk oor die see… ek weet ek sal op die trappe van die tempel wil staan waar Jesus soveel jare gelede ook gestaan het… As ons op televisie sien dat Israel en Hamas baklei, dan is ons geneigdheid om Israel se kant te kies… Dit voel so asof die Jode ons broers behoort te wees.

Maar wat is die waarheid? Dis ‘n baie belangrike vraag, want as ons glo dat die Jode gered is; as ons glo dat hulle ons broers is, dan verwyder ons hulle as sendingveld. Ons plaas hulle dan langs ons as mede-arbeiders, en nie meer as ‘n oes wat ingesamel behoort te word nie.

As ons dan verkeerd sou wees, en die Jode is nie gered nie: deur hulle nie as sendingveld te sien nie, verdoem ons hulle tot die ewige hel omdat ons hulle van die geleentheid ontneem om die Evangelie te hoor.

‘Is die Jode gered? Is hulle God se uitverkore volk?’  Wat wys die skrif vir ons?

Hebreërs 8

God se plan was nog altyd om ‘n nuwe verbond met die mens te sluit… die verbond tussen God en Moses was nie die finale en beste verbond wat God van plan was om met die mens te maak nie.. . Daar was ‘n nuwe, beter verbond in die pyplyn. Die ou verbond was slegs die skadubeeld van die nuwe verbond wat nog moes kom….

Hoe werk ‘n skadubeeld? Kom ek verduidelik so: ‘n Klein seun se Pa bou vir hom ‘n kaskar. Dan sit die laaitie in die kaskar en ‘brrrrm-brrrm’, terwyl sy pa hom op die erf rondstoot. En dis lekker, nê? Die kaskar lyk bietjie soos die regte ding; dit klink bietjie soos die regte ding, en dit voel ook ten tye bietjie soos die regte ding…maar dit is nie die regte ding nie. Daar kom ‘n dag dat die seuntjie se Pa vir hom die kar se sleutels gee, en dan sê hy ‘Kom, ons gaan ry die regte ding.’ Wanneer die dag aanbreek dat hy dan ‘n regte kar kry, omdat hy ‘n kaskar gery het, weet hy min of meer wat veronderstel is om te gebeur. Hy het al ‘n paar keer teen die garage-deur vasgery so hy weet ‘n ongeluk is iets om te vermy ensovoorts. Hy weet hoe die regte ding moet gaan, omdat hy die skadubeeld ken. Net so was die ou verbond die skadubeeld van die nuwe verbond, die werklikheid, wat nog altyd God se plan was….

Maar is die hierdie nuwe verbond slegs met Juda en Israel gesluit, as die uitverkorenes….is die kar se sleutels toe vir Israel en Judah gegee?

Matt 21:33-43

Ons weet dit is Israel wat Jesus hier van praat as die wingerd… Matt 23:37. Weet julle wat het Israel gedoen met die profete wat God gestuur het na hulle toe? Miga is vermoor deur Israel; Amos is vermoor deur Israel; Jeremiah is gestenig; Jesaja is in ‘n hol boomstomp geplaas en middeldeur gesaag; Johannes die doper se kop is afgekap deur die Jode, en natuurlik Christus self is vermoor deur die Jode. Israel het oor en oor en oor die Woord van God verwerp en die profete wat God na hulle gestuur het, verwerp en vermoor…tot hulle uiteindelik DIE profeet, God se seun Jesus Christus, vermoor het.

En hier in Matt 21 spreek Jesus ‘n oordeel oor Israel uit. Die eksklusiwiteit van die Koninkryk word deur Jesus weggeneem van Israel, en aan die hele wêreld gegee, sodat elkeen wat in hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê, Nie meer behoort die Koninkryk slegs aan ‘n aardse Israel nie…en nie meer is die ware Israel ‘n aardse Koninkryk; ‘n stukkie grond in die midde-ooste nie…maar die Koninkryk van God, die ware Israel is die nuwe tent; die nuwe tempel: die kerk van Jesus Christus.

Hierdie nuwe verbonds-volk wat Christus hier van praat is nie ‘n fisiese volk nie; dit is ‘n geestelike volk: dit is die Kerk van Jesus Christus. En elkeen wat deel wil wees van hierdie volk, kan! Maar Jood en Griek, man en vrou…almal word deel van die volk op dieselfde manier: Joh 14:6.

Niemand kom in, behalwe deur geloof in Christus nie. Daar is geen ander Naam gegee, waardeur die mens gered kan word nie. Dit maak nie saak hoeveel gebede jy bid by die klaagmuur nie, of hoe min varkvleis jy eet nie….slegs deur Christus is daar verlossing. En daardie Jood wat by die klaagmuur staan en bid… bid nie tot dieselfde God as ons nie… hy bid nie tot dieselfde God, maar sonder Christus nie: want net Christus is die middelaar… slegs Christus is die hoë-priester tussen ons en die Vader. Sonder Christus is daar geen verhouding met die ware God moontlik nie.

Gal 3:26-29

Hier sien ons dit weer: As ons bekeer is, en in Christus is, dan is ons die ware volk van Israel. Slegs deur Christen te wees is ons die geestelike afstammelinge van Abraham.

Rom 2:29

Judaisme is ‘n valse godsdiens. Die ware Jood hy wat in sy hart besny is; hy wat Christus aanvaar as verlosser, en wat God volg in gehoorsaamheid. Beide die Jood en die Heiden, die man en die vrou, almal is eenders voor God; almal kom deur dieselfde deur in die Koninkryk in, en almal sal eendag veroordeel word volgens dieselfde vraag wat die vader gaan vra: Wat het jy gedoen met my Seun? Aanvaar… of verwerp?

Alex Steyn.