Wat sê Jesus se uitlatings van Hom?

Wat sê Jesus se uitlatings van Hom?

Jesus het in sy lewe ‘n magdom verregaande uitlatings gemaak. Hy het mense geskok, kwaad gemaak, en hul lewens drasties laat verander. Wat is die rede vir dit wat Hy gedoen het? Wou Hy aansien hê? Was Hy mal? Was Hy net ‘n leuenaar, of het Hy die waarheid gepraat? Was dit net ‘n sameswering?

Kom ons kyk eerstens na ‘n paar van die dinge wat Jesus gesê het:

  1. Jesus sê Hy is gelyk met God
“Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het. ” - Johannes 5:18.

2. Jesus sê Hy is self God

“Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien? Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” - Johannes 8:56-58.

3. Jesus sê Hy is die waarheid en die lewe, en niemand kan na God toe kom behalwe deur Hom nie

“ Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” - Johannes 14:6

4. Jesus sê Hy sal doodgemaak word, maar op die derde dag weer opstaan

“ Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. ” - Mattheus 16:21

5. Jesus se Hy is die brood van lewe, en dat Hy ewige lewe gee aan die wat in Hom glo

“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”
Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”
Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.” - Johannes 6: 35-58

Met dit in gedagte, kom ons stel ondersoek in na die vrae wat gestel is in die inleiding:

Wou Hy aansien hê?

Ons weet dat Jesus baie volgelinge gehad het tot en met die uitlating dat Hy die brood van lewe is (sien punt no 5). As Hy aansien wou hê en aanhangers bymekaar wou maak, was hierdie uitlating ‘n baie slegte skuif. Die wat hierdie gedeelte ken, sal weet dat die meeste mense wat daar was, omgedraai en weggeloop het nadat Jesus hierdie gesê het. Slegs twaalf van Sy volgelinge het oorgebly.

Was Hy ‘n leuenaar?

Vir hierdie vraag, kyk ons na punt 4. As Hy ‘n leuenaar was, het Hy vir Homself ‘n baie hoë standaard gestel deur te sê dat Hy na drie dae uit die dood gaan opstaan. Selfs ‘n leuenaar weet dat dit menslik onmoontlik is om uit die dood uit op te staan, so hoekom sou enige iemand so ‘n las op homself plaas? Dit laat ons dus met een van slegs twee opsies: stapelgek, of die waarheid.

Was dit net ‘n sameswering?

Jesus is later deur die Romeine gevange geneem. Toe Sy dissipels sien dat die Romeine Hom kom haal, het hulle bang geword en weggehardloop. Jesus is toe later gekruisig deur die Romeine. Kom ons kyk na van die gebeurtenisse na Jesus se dood:

Ons sien in die boek van Handelinge dat die dissipels ‘n hele tyd na Jesus se dood verkondig het dat Hy opgestaan het en dat die mense hulself moet bekeer, want die koninkryk van God het gekom. Later het selfs Saulus, wat die volgelinge van Jesus vervolg het, vir Jesus persoonlik met hom hoor praat, waarna hy self ook die evangelie begin verkondig het. Die dissipels het voet by stuk gehou tot op die einde toe, toe hulle almal ‘n marteldood gesterf het omdat hulle die boodskap van Jesus verkondig het (Judas Iscariot en Johannes het wel nie. Judas het selfmoord gepleeg nadat hy vir Jesus verraai het en Johannes is natuurlik oorlede).

Vir enige iemand om ‘n marteldood te sterf vir ‘n sameswering hou geen voordeel in nie, en is ‘n verregaande idee. In werklikheid, sou hulle baie beter af gewees het as hulle nie die boodskap van Jesus verkondig het nie!

Was Hy mal, of het Hy die waarheid gepraat?

Met dit alles  in gedagte moet ons ook onthou dat, indien Jesus net ‘n mens was, Hy nie uit die dood uit sou kon opstaan nie. Sy dissipels het skielik ‘n tydjie na Sy dood braaf geword het en ter wille van Hom ‘n moeilike lewe gekies. Iets moes gebeur het om hulle so braaf te maak. Ons lees dat omtrent 500 mense Jesus gesien het na Sy opstanding (1 Korintiërs 15:6). Ek sou sê dat dit genoeg rede is om enige iemand braaf te maak! Ons kan dus aanvaar dat Hy wel opgestaan het, wat Sy woorde van punt  vier bevestig. Iemand wat werklik glo dat hy/sy uit die dood gaan opstaan, is of mal, of weet dat hy/sy dit wel gaan kan doen. Ons sien in Jesus se geval, dat die laasgenoemde waar is.

As Jesus na drie dae uit die dood uit opgestaan het (wat Hy spesifiek gesê het Hy gaan doen), kan ons aanvaar dat die res van sy uitlatings ook waar is: Dat Hy gelyk is met God, dat Hy God is, dat Hy die weg en waarheid is en dat niemand na God toe kan gaan behalwe deur Hom nie en dat Hy die Brood van lewe is en ewige lewe gee vir die wat in Hom glo.

Wat beteken dit vir my en jou?

Dit blote feit dat Jesus opgestaan het, beteken die volgende: Ek het hierdie artikel geskryf en jy het dit gelees. Ons albei weet nou. Ons het nie nou meer ‘n verskoning nie. Die keuse is nou een van twee. Kies om God te dien, te ken en ewige lewe te hê, en dit in oorvloed (Joh 10:10), of kies om weg te draai en die ewige dood te lei (Joh 3:18). Daar is nie ‘n middeweg of ‘n halfpad nie.

Die goeie nuus is dat God al hierdie dinge gedoen het, omdat Hy vir ons lief is (Joh 3:16-17). Nêrens in die Bybel staan daar dat jy more weer ‘n kans gaan kry nie en jy kan self nie seker wees of jy gaan nie. Wat van as hierdie die laaste keer is wat jy die evangelie gaan lees of “hoor”? Mens sal nooit reg wees om dit te aanvaar nie, want die vlees is dood en kan nie die dinge van God aanvaar nie. Jy moet kies en tot God nader. Gaan teen die vlees. Hy sal jou help en jou nuwe krag en lewe gee. Dit is nie ek wat so sê nie, maar dit is Sy belofte.

Vir interessantheid, H.G Wells, ‘n historikus, het die volgende gesê:

“I am an historian, I am not a believer, but I must confess as a historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very center of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.”
“All four Gospels agree in giving us a picture of a very definite personality. One is obliged to say, "Here was a man. This could not have been invented.”

[1] https://www.josh.org/evidence-jesus-lived/