Die derde ding van Eksodus wat nogal vir my ‘n “eye-opener” was, is hoe regverdig God is. In deel een en twee het ons gekyk na hoe God Sy geduld, liefde en genade aan die Israeliete openbaar het. Dit is nie altyd lekker om hieroor te praat nie, maar regverdigheid is net so sentraal aan Sy karakter.

God is regverdig

Kom ons kyk eerste na die tien rampe wat God oor Egipte laat kom het. Al die water is in bloed verander, die mense het uitgeslaan in rou sere, al die oudste seuns is oorlede, ensovoorts. Dit klink nogal rof né? Toe ek dit lees het ek baie gedink oor hoe moeilik dit moes wees vir God; al het die farao Hom onteien en ongehoorsaam (Eks 5:2) bly al die Egiptenare nog steeds Sy skepping en was Hy baie lief vir hulle. Hoekom dan die rampe stuur?

God het vir die farao ‘n baie duidelike kans gegee om die Israeliete toe te laat om in die woestyn te gaan feesvier (Eks 5:1) en selfs nadat hy geweier het, het God vir Moses ‘n tweede keer teruggestuur en het die farao weer hardkoppig gebly (Eks 7:13). Voor elke ramp het Moses eers vir die farao gesê wat sou gebeur sodat hy nóg ‘n kans het om te gehoorsaam, maar hy het aanhou volhard in sy eiesinnigheid. God vir die farao menigte kere gewaarsku het oor wat sou gebeur indien hy nie gehoorsaam is nie. Uiteindelik volg farao sy eie kop en tree God regverdig op en laat die rampe geskied soos Hy gesê het dit sou. In hoofstuk 7 sê Hy self hoekom dit moes gebeur.

“Wanneer Ek vir die Egiptenare gewys het hoe magtig Ek is en hulle gedwing het om die Israeliete tussen hulle te laat uitgaan, sal hulle weet dat Ek die Here is.”Eksodus 7:5

Die tweede ding waarna ek wil kyk speel aan die einde van Eksodus af, wanneer die Israeliete die (menigte) aanwysings vir die bou van die tabernakel gevolg het en dit uiteindelik opgerig het. God se teenwoordigheid het die tabernakel gevul, maar Moses kon nie meer daarin ingaan nie (Eks 40:35); dieselfde Moses wat tot dusver die enigste een was wat in God se teenwoordigheid kon wees. Jy sien , toe Moses na sy ontmoeting met God van die berg af terug gekom het, het die Israelite vir hulle ‘n goue kalf gemaak het om te aanbid (sien dele 1 en 2) en alhoewel God hulle vergewe het, is daar nog steeds skade aan die verhouding tussen God en Sy skepping gebring. Moses word uiteindelik aanspreeklik gehou vir die volk se ontrouheid en sy voorreg om soos vriende met God te praat (Eks 33:11) word van hom ontneem.

Refleksie

Soms voel ek soos die farao wat rampe in die gesig staar as gevolg van my ongehoorsaamheid. Soms voel ek soos Moses wat nie in God se teenwoordigheid kan tree nie omdat ek skuldig voel. God se regverdigheid kan nogal “scary” wees as ons so daaroor dink. Hy gee egter vir ons die versekering dat ons vrye toegang het tot Sy teenwoordigheid en dat Hy ons sondes en ons gewete skoon was. Ons hoef nie soos die Israeliete ‘n tabernakel te bou nie (gaan lees bietjie hoeveel moeite dit was in hoofstuk 35 tot 39). Nou dít is genade!

Kom ons gaan dan die heiligdom binne, ja tot voor God, met ‘n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte deur besprinkeling gesuiwer is van ‘n skuldige gewete en ons liggame gewas is met skoon water.Hebreërs 10:22