Wat my excite van Exodus! (Deel 2)

Wat my excite van Exodus! (Deel 2)

In die vorige gedeelte het ons gekyk na hoe die volk van Israel in hulle geloof verswak het selfs nadat herhaaldelik Sy krag aan hulle openbaar het. Nou gaan ons kyk na hoe God se optrede tydens hierdie situasies Sy betroubare karakter weerspieël.

God bly getrou aan Sy karakter

God gee aan Israel die geleentheid (en voorreg) om in ‘n nuwe verbond in te gaan; een wat hulle sal vorm tot ‘n nasie wat God dien, ‘n koninkryk van priesters (Eks 19:5-6) en wat die verhouding tussen God en Sy skepping sal herstel. Hulle mag egter nie meer afgode aanbid nie. Die hele volk eed gehoorsaamheid (Eks 19:8), maar terwyl Moses nog op die berg van Sinai is om die voorskrifte van die verbond en die bouplan van die tabernakel by God te kry, raak hulle ongeduldig en bou ‘n goue kalf om as afgod te aanbid (letterlik nét nadat hulle ingestem het tot die verbond!). Hulle sê selfs die kalf het hulle uit Egipte gered!

Hierdie het vir God baie kwaadgemaak, maar Moses gee stem aan twee belangrike aspekte van God se karakter naamlik Sy getrouheid en Sy heiligheid. God het ‘n ooreenkoms met Abraham gesluit om sy groot nageslag te bewaar tot in die Beloofde Land en ten spyte van alles bly Hy getrou. Dit sou die Naam van God skade aanrig as die Egiptenare sien dat Hy Sy volk tot hulle dood gelei het en sou hulle Hom nooit volg nie. God se reputasie en die heiligheid van Sy Naam bly onbesmet wanneer Hy aan die Israeliete nog ‘n kans skenk om Sy toegewyde volk te wees. Sy liefde en genade is so groot dat Hy weereens getrou bly aan ‘n ontroue volk.

In hoofstuk 34 openbaar God self aspekte van Sy karakter. Hy begin deur om te sê “Ek is die Here” (vers 6) wat aandui op Sy soewereiniteit en almagtigheid. Hy is ook barmhartig, genadig, geduldig, lojaal en vol liefde. God het alleenlik totale beheer oor Sy skepping en hulle noodlot, maar Hy regeer in liefde en wil altyd net die beste vir Sy skepping hê. Alhoewel Hy die Israeliete kon (en wou) uitwis toe hulle Sy gebooie gebreek het (Eks 32:10), het Sy getrouheid aan Sy karakter konstant gebly en het Hy dit nie gedoen nie.

Refleksie

Hierdie is vir my ongelooflik kragtig en is werklik iets waaraan ons kan vashou en op vertrou. Dieselfde God wat geduldig was met die volk van Israel en absolute genade aan hulle getoon het, is die God wie ons nou dien. Hy is groter as wat ons kan beskryf en het totale mag en krag oor alles, tog openbaar Hy heeltyd Sy liefde aan ons. Is dit nie wonderlik om te weet dat ons eie tekortkominge nooit genoeg sal wees om God van Sy karakter te laat verander nie?

Hierdie volk wat U gered het, lei U met liefde. U sal hulle lei met U krag na die plek waar U Naam heers. Eks 15:13

Tiffany Jibson.