Wat my excite van Eksodus! (Deel 1)

Wat my excite van Eksodus! (Deel 1)

Die boek van Eksodus is propvol opwindende geskiedenis en briljante wonderwerke, maar kan nogal ‘n langwindige lees wees. Die ligging is Egipte; die Here het Abraham se nageslag (die Israeliete) geseën sodat hulle sou vrugbaar wees en vermeerder. Aan die einde van Genesis immigreer Jakob (Abraham se kleinseun) en sy familie Egipte toe en oor ‘n tydperk van ongeveer 400 jaar word die Israeliete so volop dat die nuwe farao hulle as ‘n dreigement sien en as slawe behandel. God gebruik dan vir Moses om Sy volk te bevry. Hier volg drie kern belangrikhede wat vir my uitgestaan het van die pad wat Moses moes stap, van baba in ‘n rietmandjie tot leier van die Israeliete.

Die menslikheid van die Israelitiese volk.

Alhoewel die Israelitiese volk God se wonderwerke en krag eerstehands beleef het, het hulle nietemin in hulle geloof en toewyding verswak. Hulle het self gesien hoe God Sy krag en genade openbaar toe Hy die waters van die Rietsee oop gewaai het (Eks 14:15-31) en die brak water van Mara soet en drinkbaar gemaak het (Eks 15:22-27). Nogtans raak hulle mismoedig in die Sinwoestyn wanneer daar nie kos te vinde is nie. Hulle wens selfs dat die Here hulle as slawe in Egipte gelos het! Kan jy dit glo?!

Sy bewaring, tesame met menige ander wonderwerke, word later weer vergeet. In ‘n poging om die verhouding tussen God en Sy mense reg te stel (wat beskadig is tydens die sondeval), stel God die nuwe verbond beskikbaar. Terwyl Moses op die berg van Sinai besig was om die voorskrifte van hierdie voorreg te kry, het die volk ongeduldig geraak en vergeet van God se getrouheid. Hulle het gemeen dat dit beter is om iets sigbaar te aanbid en het ‘n goue kalf as afgod gemaak en geprys (Eks 32:1-6). Die Here was woedend!

Persoonlik herinner die wantroue en ongeduld van die Israeliete vir my so bietjie aan my eie verhouding met die Here. As die resultate lank vat is dit soms moeilik om op God se karakter te vertrou en maklik om troos in ander dinge te vind en om te kla. Hierdie uitsprake is dan egter teen God self (Eks 16:7) aangesien Hy in beheer is. Die Here gee darem vir ons die versekering dat Hy ons bewaar en beskerm. Ons moet net geduldig wees en vertrou op die Allerhoogste.

Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg!” – Eks 14:14

Tiffany Jibson.