Posts

Nope! Jy het reg gelees. Die Rooi See het nie oombliklik oopgegaan toe die Israeliete daardeur wou trek nie. God het ‘n wind heelnag laat waai om die Rooi See oop te kloof toe die Israeliete besig was om vanuit Egipte te vlug.

As jou reaksie enigsins soos myne was toe ek hierdie die eerste keer gehoor het, dan sou jy dalk vra, “wat jy waar kry?”. Die See het mos onmiddelik oop gekloof toe Moses sy staf in die see gesteek het, nie waar nie? Jy het seker iets soos hierdie in gedagte moontlik gehad:

exodus GIF

Die prentjie hier bo kom vanuit die kinderrolprent “Moses”. Ek het hierdie rolprent as kind gesien en dit het altyd by my gebly. Hierdie rolprent het my laat glo dat die Rooi See onmiddellik oopgekloof het toe Moses sy staf in die water steek. Dus, was ek so bietjie geskok toe ek lees dat die Rooi See deur ‘n Ooste wind oop gewaai was en dit het heel nag lank gevat!

Ons lees in Eksodus 14:

“Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ’n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is.”

Hier is ‘n paar interessante feite oor hierdie gebeurtenis:

  1. Moses het nie soos in die kinder rolprente sy staf in die see gedruk nie, hy het dit net in die lug gehou. Ons lees nie of hy dit wel so moes gehou het nie en/of wat hy daarna met die staf gemaak het nie.
  2. Die Rooi See was met ‘n sterk Ooste wind oop gewaai. Dit is indrukwekkend omdat God vir die Israeliete wys dat Hy God is en dat Hy beheer en mag het oor die natuur. Dit was ‘n voorbeeld vir die Israeliete dat al lyk dit asof daar nie enige moontlike uitweg is nie, God die bonatuurlike kan doen om hulle te red.
  3. Die wind het heel nag gewaai om die see oop te kloof. Dit het nie onmiddellik gebeur nie.
  4. Die Israeliete het eers vroeg in die oggend deur die see gestap. Die Egiptenare is kort daarna agter hulle aan.
  5. Moses moes sy staf weer in die lug hou nadat hulle deur is, sodat die see weer kon toe gaan op die Egiptenare (v. 27).
  6. God het heel moontlik gekies om die natuur te gebruik om vir die Israeliete te wys dat Hy die natuur beheer. Dit kon ook ‘n indikasie wees dat hulle die Skepper, en nie die Skepping moes aanbid nie (Romeine 1); iets waarmee hulle gedurig versoek was.

Wat kan ons hieruit leer en vandag dalk van toepassing maak?

Eerstens, wanneer dit vir my en jou lyk asof daar geen uitweg is in ‘n situasie of in hierdie lewe nie, dan moet ons weet dat God daar is vir ons. Dit mag dalk lyk asof niks moontlik is nie, maar as ons God die natuur kan beheer en wonderwerke doen, dan is Hy baie meer magtiger en in staat om ‘n wonderwerk vir my en jou te doen. Enige situasie waarin ons sit en waar ons worstel, waar ons dalk versoek word en swaar kry, is ‘n geleentheid vir ons om ons oë op die Here te hou. God belowe in Sy Woord dat as ons standvastig bly, dan is dit tot ons voordeel en ons sal gelukkig wees. Dit help ons om Geestelik te groei.

Ek sluit af met die volgende vers:

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.”

Jak. 1:12

Die Here seën,
Riaan

Ek is besig om deur die brief van Jakobus te werk en daar is menigte beelde in die brief. Een van die beelde wat die sterkste uitgebeeld word is dié van die tong. Die tipe beeldspraak in Jakobus 3:1-12 wat ons raaklees is ‘n metafoor. ‘n Metafoor, as ek nou reg kan onthou van skool se dae af, is om ‘n vergelyking te tref met een ding teenoor ‘n ander.

Ons lees in Jakobus 3:3-4:

“Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.”

Hier kan ons sien die tong word met drie dinge vergelyk: ‘n stang in ‘n perd se mond, ‘n klein roer van ‘n skip en ‘n vuur. Wat die beeldspraak in hierdie teks doen is om ons te help om te verstaan hoe kragtig en gevaarlik die klein tong kan wees. Dit sit ‘n baie abstrakte en dalk komplekse idee op ‘n meer verstaanbare vlak. Al drie van hierdie beelde verduidelik dieselfde konsep: iets so klein soos die tong, het baie groot mag of invloed.

3 Redes hoekom die Bybel beeldspraak gebruik

Daar is baie redes hoekom beeldspraak in die Bybel voor kom en ek wil nie nou in diepte na elkeen kyk nie, maar wat ek wel wil doen is om net drie gedagtes uit te lug oor hoekom beeldspraak belangrik is en hoekom ons daarvoor moet oplet.

  1. Dit is makliker om te onthou
  2. Dit is makliker om te verstaan
  3. Dit maak abstrakte en moeilike konsepte meer konkreet.

Die Woord van God as ‘n Swaard

Wanneer ons beeldspraak gebruik, dan word ons verbeelding geprikkel en dit maak dat ons ‘n beeld of storie makliker kan onthou. Een van my gunsteling beelde wat ek onthou en na terugverwys om te verduidelik hoe die Woord van God is, is dié van die twee snydende swaard. As ek aan God se Woord  dink, dan dink ek aan ‘n baie skerp swaard. Hebreërs 4:12 praat van die Woord van God as ‘n baie skerp swaard:

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Heb. 4:12

So as ek jou vra waarvoor is ‘n swaard nuttig, of wat is sy doel dan kan ek aan ‘n paar goed dink. Ek gebruik ‘n swaard om mee te veg; om myself mee te verdedig teen die vyand; om gereg te handhaaf; om dalk iets mee te sny. Net so het die Woord van God ook waarde om in ons lewens in te sny en sonde uit te haal (Lees meer hieroor).

‘n Paar wenke

Wanneer jy Bybelstudie doen en die Bybel lees, fokus ‘n bietjie meer op die beeldspraak wat gebruik word en jy mag dalk verbaas wees hoe kragtig beeldspraak kan wees om ‘n boodskap oor te bring. Ons lees al té gou oor beeldspraak en mis uit op die wonderlike boodskappe en lesse wat die Vader vir ons wil leer.

Daar is ‘n ou boekie wat eerste in 1898 geskryf is deur E.W. Bullinger met die naam Figures of speech used in the Bible. Hierdie naslaan boekie is baie waardevol omdat dit die beeldspraak in die Bybel help verduidelik, veral in die konteks van die oorspronklike skrywers en leses. Die nuwer opgedateerde weergawe kan bv. op Amazon en Kindle gevind word. Daar is baie ander opsies, hierdie is maar net een voorbeeld wat vandag nog relevant is en hoog geprys word.

As jy enige navrae het, vul gerus die kontak vorm in.

Die Here seën!
Riaan