Ons gedagtes bepaal ons rigting in die lewe

Ons gedagtes bepaal ons rigting in die lewe

Ons mans is lief daarvoor om te droom en ons gedagtes kan baie keer ook lekker op hol jaag.

Toe ek op hoërskool was het ek hierdie een spesifieke droom gehad in klas. Wanneer die klas so bietjie vervelig geraak het, het ek by die venster uit gestaar en my verbeel hoe daar ‘n paar swart voertuie aangejaag kom en buite die klas stop saam met ‘n swart helikopter wat aangevlieg kom en langs die karre land. Almal kyk verras by die venster uit soos daar ‘n klomp manne uit klim wat swaar gewapen is in swart pakke en hulle kom in die skool in en stap reguit na my klas toe en dan tot almal se wonder roep hulle vir my en sê: Riaan, ons het jou nodig! Kom, maak gou! En dan soos ek daar opspring word daar vir my ‘n koeëlvaste baadjie gegooi, ‘n radio word in my oor gedruk, ‘n skerp skut geweer in die hand en dan is ek daar saam met hulle weg. Ek verbeel hoe my maats die volgende dag sal reageer en hoe almal so baie vrae gaan hê.

My drome was wild en ek was altyd ‘n HERO wat die wêreld wil red. Dit was baie pret, maar die probleem was dat dit nie realisties was nie en die Here was nêrens in hierdie drome nie. Natuurlik, min wetende dat ek wel eendag die wêreld sou probeer red, maar op God se agenda en nie myne nie. Dit is wel ‘n storie vir ‘n ander dag.

Op ‘n manier het ons elkeen al sulke wilde drome gehad. Dis nie noodwendig verkeerd om sulke onrealistiese drome te hê nie, want dit is tog net drome, maar wanneer ons drome ons gedagtes oorheers en dit wat in ons gedagtes heers nie Goddelik is nie, dan kan dit ons van die Here af weg dryf – dis wanneer dit ‘n probleem kan word.

Gedagtes bepaal ons aksies en rigting in die lewe

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou hele lewe.” Spr. 4:23

Wanneer die Bybel praat van wat in ons hart omgaan, dan verwys dit na wat in ons gedagtes / denke en drome is. As ek die heeltyd oor geld droom en geld soek dan gaan dit maak dat ek baie hard werk wat dalk kan maak dat ek my familie, kinders of vriende afskeep – dit kan selfs maak dat ek die Kerk en die Here afskeep. Dit mag dalk selfs my in die versoeking bring om kort paaie te soek tot rykdom. As ek die heeltyd oor mooi vrouens droom en my gedagtes met die verkeerde goed voed, dan gaan dit maak dat ek eendag maklik kan struikel.

Ons gedagtes bepaal ons lewe deurdat dit ons besluite en redenasies beïnvloed

What a wee little part of a person’s life are his acts and his words! His real life is led in his head, and is known to none but himself. All day long, the mill of his brain is grinding, and his thoughts, not those other things, are his history.Mark Twain

Ons gedagtes is die dryfkrag agter ons aksies. Dit is ons gedagtes wat bepaal die tiepe mens wat ons is. Ongelukkig kan ons ons gedagtes nie vertrou nie, want ons natuur is sondig van aard en die hart is vuil.

“Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes.” Mark 7:20

Die gedagtes van die hart is van nature sleg. Ons is sondaars en partykeer kan ons dit nie keer nie, maar dit bly nie ‘n verskoning nie. In Christus kry ons ‘n nuwe natuur, want ons word ‘n nuwe mens in die Here wanneer ons van ons slegte gewoontes en lewe bekeer. Kol. 3:5-11 praat van hoe ons die aardse dinge en die vlees moet dood maak en die ou lewe agter ons moet sit omdat ons ‘n nuwe lewe leef in Christus Jesus. Dit is Jesus wat ons daagliks vernuwe om meer en meer soos hy te word.

“Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” Jak. 1:14-15

Hierdie laaste paar verse maak dit duidelik dat sonde nie net ‘n aksie is nie, maar dat sonde in die hart eers voorkom. Daarom, vriende, moet ons versigtig wees met wat in ons hart om gaan en wat in ons gedagtes en drome is.

Wat bepaal jou lewe?

Dit wat jy jouself mee voed, deur wat jy lees en kyk, het ‘n invloed op wat in jou hart omgaan. Waarmee voed jy jouself? Kyk jy verkeerde goed wat jy weet jy nie behoort te kyk nie? Luister jy na musiek wat dalk nie die Here eer nie? Hoe baie tyd spandeer jy in die Woord van die Here?

2 Kor. 2:15 sê dat ons elke gedagte gevange moet neem. Dit beteken dat ek my gedagtes en drome onder die gesag van die Here Jesus moet plaas en dit in lyn moet bring met die Woord van God. Paulus skryf in Romeine 6:22 dat ons vrygemaak is van die sonde, ons is vry! Wanneer ons in Christus is dan word ons deur Hom geheilig.

Ek weet nie wat in jou gedagtes aan gaan nie, maar die Here weet. Hy weet wat in die donkerste hoeke van jou hart omgaan. Hebreërs 4:13 sê vir ons

“Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”

en vers 12 gee vir ons ‘n oplossing:

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Vernuwe jou gedagtes en hou dit rein

Ek wil jou bemoedig: kom in die Woord en laat God toe om jou gedagtes te vernuwe. Dawid het baie gesondig, maar hy was tog ‘n man na God se hart. Ten spyte van sy sonde het hy geweet wat die oplossing is en daarom gee hy vir ons die volgende raad:

Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! Ps. 119:9

Wat in jou hart om gaan, bepaal die pad wat jy gaan loop. As ons dit vul met die Woord van die Here, dan sal ons elkeen volgens die wil van God lewe en die pad stap wat Hy vir ons bepaal het.

Die Here seën,
Riaan