Kan ek God lief hê sonder om alle mense lief te hê?

Kan ek God lief hê sonder om alle mense lief te hê?

Liefde vir mense en liefde vir God. Daar is ‘n sterk konneksie tussen die twee en dit hou direk verband met my verhouding met die Here en hoe ek mense om my hanteer. Ek dink nogals gereeld aan hoe baie mense hulself Christene of Kinders van God noem, maar hulle is nie lief vir hul naaste nie. Hulle sê dit nie dalk so pertinent nie, maar as ek na hul optrede kyk teenoor ander mense dan is dit duidelik dat daar ‘n tekort aan liefde is.

Dit is seker ‘n sterk stelling om te maak, maar nogtans dink ek is dit ‘n geldige een. Jy sien, daar is baie mense wat God probeer dien en wie gelowig is, maar as ons mooi na hul kyk en luister dan kan ons partykeer hoor en sien dat daar iemand in die persoon se lewe is wat die persoon verafsku, nie kan verdra nie of dalk iemand wat hul nie kan vergewe nie en ‘n wrok teen die persoon koester. As dit die geval is, dan is daar fout.

Ek is besig om deur 1 Johannes te lees en dit is opmerklik hoe gereeld en hoe direk Johannes skryf dat as ons in God is dan moet ons mense lief hê. As ons iemand nie kan liefhê nie, dan is God se liefde nie in ons nie en dan het ons nie ‘n werklike verhouding met die Here nie.

Neem die volgende 2 verse as voorbeeld:

“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.” 1 Joh. 4:7-8

Wanneer ek hierdie verse lees dan laat dit my amper ‘n bietjie skrik, want ek besef dat daar ‘n groot verantwoordelikheid op my rus om my medemens lief te hê. Die verse maak dit duidelik dat liefde van God af kom. As ek nie God ken nie en nie ‘n verhouding met Hom het nie, dan het ek en ken ek nie liefde nie.

Dit is maklik om te sê dat ons as mense die vermoë het om lief te wees vir ander sonder God, maar is dit werklike liefde? Wat van as die persoon vir wie jy lief is, alles van jou af weg vat? Wat van as die persoon vir wie jy lief moet wees jou ma, pa of kinders vermoor? Wat van as die persoon vir wie jy lief moet wees dalk jou in die rug gesteek het, vir jou gejok het of jou te na gekom het? Nou praat ons van ‘n ander prentjie – nie waar nie?

“Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” Kol. 3:13

Hierdie vers maak dit duidelik dat ons ‘n verantwoordelikheid het om ander mense te moet vergewe. Ja, die “julle” mag dalk spesifiek praat van ander gelowiges, maar Jesus leer vir ons dat ons selfs ons vyande moet liefhê! Dit is so te sê onmoontlik, maar nie as ons God ken nie.

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg.” Mat. 5:43-44

Sjoe! Om vir elke mens lief wees is nie normaal nie! Wel ek kan nie dink dat dit is nie, maar wanneer ons die Vader ken en ons weet waarvan ons gered is en hoe baie God my liefhet, dan het ek geen verskoning of rede om ander mense nie lief te hê nie.

Vra jouself af

Het ek alle mense lief? Of net dié met wie ek oor die weg kom of van wie ek hou? My geloof en verhouding met die Here word hieraan getoets: het ek alle mense lief?