Hoekom gebruik die Bybel beeldspraak?

Hoekom gebruik die Bybel beeldspraak?

Ek is besig om deur die brief van Jakobus te werk en daar is menigte beelde in die brief. Een van die beelde wat die sterkste uitgebeeld word is dié van die tong. Die tipe beeldspraak in Jakobus 3:1-12 wat ons raaklees is ‘n metafoor. ‘n Metafoor, as ek nou reg kan onthou van skool se dae af, is om ‘n vergelyking te tref met een ding teenoor ‘n ander.

Ons lees in Jakobus 3:3-4:

“Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.”

Hier kan ons sien die tong word met drie dinge vergelyk: ‘n stang in ‘n perd se mond, ‘n klein roer van ‘n skip en ‘n vuur. Wat die beeldspraak in hierdie teks doen is om ons te help om te verstaan hoe kragtig en gevaarlik die klein tong kan wees. Dit sit ‘n baie abstrakte en dalk komplekse idee op ‘n meer verstaanbare vlak. Al drie van hierdie beelde verduidelik dieselfde konsep: iets so klein soos die tong, het baie groot mag of invloed.

3 Redes hoekom die Bybel beeldspraak gebruik

Daar is baie redes hoekom beeldspraak in die Bybel voor kom en ek wil nie nou in diepte na elkeen kyk nie, maar wat ek wel wil doen is om net drie gedagtes uit te lug oor hoekom beeldspraak belangrik is en hoekom ons daarvoor moet oplet.

  1. Dit is makliker om te onthou
  2. Dit is makliker om te verstaan
  3. Dit maak abstrakte en moeilike konsepte meer konkreet

Die Woord van God as ‘n Swaard

Wanneer ons beeldspraak gebruik, dan word ons verbeelding geprikkel en dit maak dat ons ‘n beeld of storie makliker kan onthou. Een van my gunsteling beelde wat ek onthou en na terugverwys om te verduidelik hoe die Woord van God is, is dié van die twee snydende swaard. As ek aan God se Woord  dink, dan dink ek aan ‘n baie skerp swaard. Hebreërs 4:12 praat van die Woord van God as ‘n baie skerp swaard:

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” Heb. 4:12

So as ek jou vra waarvoor is ‘n swaard nuttig, of wat is sy doel dan kan ek aan ‘n paar goed dink. Ek gebruik ‘n swaard om mee te veg; om myself mee te verdedig teen die vyand; om gereg te handhaaf; om dalk iets mee te sny. Net so het die Woord van God ook waarde om in ons lewens in te sny en sonde uit te haal (Lees meer hieroor).

‘n Paar wenke

Wanneer jy Bybelstudie doen en die Bybel lees, fokus ‘n bietjie meer op die beeldspraak wat gebruik word en jy mag dalk verbaas wees hoe kragtig beeldspraak kan wees om ‘n boodskap oor te bring. Ons lees al té gou oor beeldspraak en mis uit op die wonderlike boodskappe en lesse wat die Vader vir ons wil leer.

Daar is ‘n ou boekie wat eerste in 1898 geskryf is deur E.W. Bullinger met die naam Figures of speech used in the Bible. Hierdie naslaan boekie is baie waardevol omdat dit die beeldspraak in die Bybel help verduidelik, veral in die konteks van die oorspronklike skrywers en leses. Die nuwer opgedateerde weergawe kan bv. op Amazon en Kindle gevind word. Daar is baie ander opsies, hierdie is maar net een voorbeeld wat vandag nog relevant is en hoog geprys word.

As jy enige navrae het, vul gerus die kontak vorm in.

Die Here seën!
Riaan