Die Rooi see het nie dadelik oopgegaan nie

Die Rooi see het nie dadelik oopgegaan nie

As jou reaksie enigsins soos myne was toe ek hierdie die eerste keer gehoor het, dan sou jy dalk vra, “wat jy waar kry?”. Die See het mos onmiddellik oop gekloof toe Moses sy staf in die see gesteek het, nie waar nie? Jy het seker iets soos hierdie in gedagte gehad:

exodus GIF

Ongelukkig, het dit nie gebeur soos in die prentjie hier bo nie. Die Rooi See het nie oombliklik oopgegaan toe die Israeliete daardeur wou trek nie. God het ‘n wind heelnag laat waai om die Rooi See oop te kloof toe die Israeliete besig was om vanuit Egipte te vlug. Die prentjie hier bo kom vanuit die kinder rolprent “Moses”. Ek het hierdie rolprent as kind gesien en dit het altyd by my gebly. Hierdie rolprent het my laat glo dat die Rooi See onmiddellik oopgekloof het toe Moses sy staf in die water steek. Dus, was ek so bietjie geskok toe ek lees dat die Rooi See deur ‘n Ooste wind oop gewaai was en dit het heel nag lank gevat!

Ons lees in Eksodus 14:

“Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ’n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is.”

Hier is ‘n paar interessante feite oor hierdie gebeurtenis:

  1. Moses het nie soos in die kinder rolprente sy staf in die see gedruk nie, hy het dit net in die lug gehou. Ons lees nie of hy dit wel so moes gehou het nie en/of wat hy daarna met die staf gemaak het nie.
  2. Die Rooi See was met ‘n sterk Ooste wind oop gewaai. Dit is indrukwekkend omdat God vir die Israeliete wys dat Hy God is en dat Hy beheer en mag het oor die natuur. Dit was ‘n voorbeeld vir die Israeliete dat al lyk dit asof daar nie enige moontlike uitweg is nie, God die bonatuurlike kan doen om hulle te red.
  3. Die wind het heel nag gewaai om die see oop te kloof. Dit het nie onmiddellik gebeur nie.
  4. Die Israeliete het eers vroeg in die oggend deur die see gestap. Die Egiptenare is kort daarna agter hulle aan.
  5. Moses moes sy staf weer in die lug hou nadat hulle deur is, sodat die see weer kon toe gaan op die Egiptenare (v. 27).
  6. God het heel moontlik gekies om die natuur te gebruik om vir die Israeliete te wys dat Hy die natuur beheer. Dit kon ook ‘n indikasie wees dat hulle die Skepper, en nie die Skepping moes aanbid nie (Romeine 1); iets waarmee hulle gedurig versoek was.

Wat kan ons hieruit leer en vandag dalk van toepassing maak?

Eerstens, wanneer dit vir my en jou lyk asof daar geen uitweg is in ‘n situasie of in hierdie lewe nie, dan moet ons weet dat God daar is vir ons. Dit mag dalk lyk asof niks moontlik is nie, maar as ons God die natuur kan beheer en wonderwerke doen, dan is Hy baie meer magtiger en in staat om ‘n wonderwerk vir my en jou te doen. Enige situasie waarin ons sit en waar ons worstel, waar ons dalk versoek word en swaar kry, is ‘n geleentheid vir ons om ons oë op die Here te hou. God belowe in Sy Woord dat as ons standvastig bly, dan is dit tot ons voordeel en ons sal gelukkig wees. Dit help ons om Geestelik te groei.

Ek sluit af met die volgende vers:

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.” Jak 1:12

Die Here seën,
Riaan