Die operasie

Die operasie

Het jy al ‘n operasie ondergaan? Jy word vol naalde gedruk, op ‘n drip gesit en dan op ‘n bed met wiele in die operasie kamer in gestoot waar ‘n klomp dokters met maskers vir jou staan en wag…

…in sulke oomblikke kry ek ‘n benoude gevoel!  As jou operasie enigsins soos my ervaringe was, dan was dit glad nie aangenaam nie. Gelukkig word ek dan deur die dokters gerus gestel en verseker dat alles goed sal verloop.

Ons ervaar dieselfde in ons Geestelike lewe. Wanneer ons tyd spandeer in die Woord van die Here, dan word ons ook op ‘n manier geopereer. Noem dit maar ‘n Bybelse operasie wat ons ondergaan.

In Hebreërs 4:12 lees ons:

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Die Woord van God is soos die dokter se skalpel. Dit is baie skerp en word gebruik om al die kwaadaardige goed in ons geestelike liggaam uit te sny. Wanneer ons tyd spandeer in die Woord en dit bestudeer, dan word ons gedagtes beoordeel. Dit praat met ons as ons met verkeerde goed besig is en dit help ons om Geestelik sterk en gesond te word.

As ons baie tyd in die Woord spandeer, dan sal ons geloof versterk word, ons verhouding met die Vader versterk word en ons sal geestelik groei.

Ek wil jou aanmoedig, kom daagliks in die Woord en laat die Heilige Gees toe om jou van binne af te verander.

“…maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe…” Rom. 12:2

Seënwense,
Riaan