“Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.”

1 Joh 3:11

My ouma het die ander dag vir my gevra: “wat is liefde?” Ons was besig gewees om te gesels oor die kort briewe van Johannes (1,2 en 3 Johannes) en die klem wat Johannes op liefde sit. Ek het duidelik nie aandagtig gelees nie, want toe sy my vra wat liefde is – het ek vir ‘n oomblik vas gehaak.

Ek gaan toe weer deur 1 Johannes 3:11-17 en daar is 3 of 4 kenmerke van ware (of egte) liefde. Toe ek die 3 of 4 kenmerke vinnig bestudeer toe maak dit vir my meer sin en ek hoop dat dit vir jou dalk ook sal help!

Daar word klem geplaas op liefde vir mekaar. Johannes sê dat ons nie soos Kain moet wees nie. As jy die storie van Kain en Abel onthou, dan sal jy onthou dat Kain jaloers was op Abel omdat God Abel se offergawe aanvaar het, maar nie Kain s’n nie. Kain het sy broer toe begin haat en vir Abel uiteindelik toe vermoor… Nou Johannes sê dat ons moet nie haat nie – liefde en haat gaan nie hand in hand nie.

3 Kenmerke van ware liefde

So hoe lyk ware liefde? As ek sê ek het mense lief en ek het egte of ware liefde, dan moet ek hierdie kenmerke hê:

1. Ek mag nie haat nie (1 Joh 3:15)

Haat – dit is ‘n groot woord daardie! Johannes verduidelik dat as ons ware liefde in ons hart het, dan kan ons nie (ons mag nie!) ons broers (of susters) haat nie. As iemand sy broer haat dan is hy ‘n moordenaar (1 Joh 3:15). Kain het gehaat en dit het uitgeloop op moord. JOhannes maak immers duidelik dat haat gelyk aan moord is en moordenaars sal nie die Koninkryk van God erf nie. Die implikasies van haat is huge! Dit druis teen alles wat liefde voor staan.

2. As ek bereid is om my lewe vir ‘n ander af te lê (1 Joh 3:16)

Johannes skryf dat ons weet wat liefde is as gevolg van die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het – om Sy lewe vir ons neer te lê. As ons Kinders van God is en dissipels van Jesus is, dan beteken dit mos dat ons in sy voetspore moet volg. Daarom moet ons ons lewe vir ons broers en susters in Christus ook kan af lê. Nie baie mense is gewillig om dit te doen nie. Om jou lewe vir iemand te gee beteken nie net dat ons hulle dien, of help, of ‘n nier voor skenk nie, maar ons moet gewillig wees om ons lewe neer te lê of te ruil. ‘n Eenvoudige voorbeeld: die boot is besig om te sink en dit is jy en iemand anders. Daar is net kans om een persoon te red. As jy die ander persoon eerste laat gaan dan sal dit wees vanuit ‘n posisie van liefde en nie selfsug nie.

3. Om dié wat swaar kry te help terwyl ek in ‘n posisie is om te help (1 Joh 3:17)

Omgee vir ander en vir die wat swaar kry is ‘n belangrike kenmerk van ware liefde. Nie net moet ek vir die wat swaar kry probeer help nie, maar ek moet meegevoel vir hulle hê. In 1 Johannes 3:17 lees ons dat as ons iets het en ons broer het nie, dan moet ons meegevoel hê vir hom. Dit beteken dood eenvoudig dat as ek kos het en ‘n broer of suster het nie kos nie, dan moet ek met hulle deel. Dit beteken selfs, as ek in staat is om te deel (m.a.w. ek het 2 appels) dan moet ek deel (1 appel weg gee). Hierin word my liefde wat God in my hart gesit het getoets – hierin word my geloof ook getoets, want deur te gee, al het ek ook min, sit ek my vertroue in die Here en nie in my eie besittings nie.

Liefde en geloof gaan hand-in-hand. As ek geloof het en glo, dan sal ek ook liefde hê vir my naaste en my medemens. My geloof, sonder aksie en meegevoel vir my naaste, is dan dood. Het jy hierdie kenmerke in jou eie lewe? Is jy bereid om jou lewe vir jou medemens neer te lê? Is jy bereid om met ander wat swaar kry te deel? En laastens, koester jy haat of woede in jou hart teenoor iemand?

Mag hierdie 3 kenmerke in jou lewe sigbaar word sodat ons Here Jesus Christus verheerlik kan word!

Die Here seën,
Riaan

Nope! Jy het reg gelees. Die Rooi See het nie oombliklik oopgegaan toe die Israeliete daardeur wou trek nie. God het ‘n wind heelnag laat waai om die Rooi See oop te kloof toe die Israeliete besig was om vanuit Egipte te vlug.

As jou reaksie enigsins soos myne was toe ek hierdie die eerste keer gehoor het, dan sou jy dalk vra, “wat jy waar kry?”. Die See het mos onmiddelik oop gekloof toe Moses sy staf in die see gesteek het, nie waar nie? Jy het seker iets soos hierdie in gedagte moontlik gehad:

exodus GIF

Die prentjie hier bo kom vanuit die kinderrolprent “Moses”. Ek het hierdie rolprent as kind gesien en dit het altyd by my gebly. Hierdie rolprent het my laat glo dat die Rooi See onmiddellik oopgekloof het toe Moses sy staf in die water steek. Dus, was ek so bietjie geskok toe ek lees dat die Rooi See deur ‘n Ooste wind oop gewaai was en dit het heel nag lank gevat!

Ons lees in Eksodus 14:

“Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ’n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is.”

Hier is ‘n paar interessante feite oor hierdie gebeurtenis:

  1. Moses het nie soos in die kinder rolprente sy staf in die see gedruk nie, hy het dit net in die lug gehou. Ons lees nie of hy dit wel so moes gehou het nie en/of wat hy daarna met die staf gemaak het nie.
  2. Die Rooi See was met ‘n sterk Ooste wind oop gewaai. Dit is indrukwekkend omdat God vir die Israeliete wys dat Hy God is en dat Hy beheer en mag het oor die natuur. Dit was ‘n voorbeeld vir die Israeliete dat al lyk dit asof daar nie enige moontlike uitweg is nie, God die bonatuurlike kan doen om hulle te red.
  3. Die wind het heel nag gewaai om die see oop te kloof. Dit het nie onmiddellik gebeur nie.
  4. Die Israeliete het eers vroeg in die oggend deur die see gestap. Die Egiptenare is kort daarna agter hulle aan.
  5. Moses moes sy staf weer in die lug hou nadat hulle deur is, sodat die see weer kon toe gaan op die Egiptenare (v. 27).
  6. God het heel moontlik gekies om die natuur te gebruik om vir die Israeliete te wys dat Hy die natuur beheer. Dit kon ook ‘n indikasie wees dat hulle die Skepper, en nie die Skepping moes aanbid nie (Romeine 1); iets waarmee hulle gedurig versoek was.

Wat kan ons hieruit leer en vandag dalk van toepassing maak?

Eerstens, wanneer dit vir my en jou lyk asof daar geen uitweg is in ‘n situasie of in hierdie lewe nie, dan moet ons weet dat God daar is vir ons. Dit mag dalk lyk asof niks moontlik is nie, maar as ons God die natuur kan beheer en wonderwerke doen, dan is Hy baie meer magtiger en in staat om ‘n wonderwerk vir my en jou te doen. Enige situasie waarin ons sit en waar ons worstel, waar ons dalk versoek word en swaar kry, is ‘n geleentheid vir ons om ons oë op die Here te hou. God belowe in Sy Woord dat as ons standvastig bly, dan is dit tot ons voordeel en ons sal gelukkig wees. Dit help ons om Geestelik te groei.

Ek sluit af met die volgende vers:

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.”

Jak. 1:12

Die Here seën,
Riaan

Ek hoor so baie Christene wat glo dat Adam en Eva van ‘n Appel boom geëet het, maar ongelukkig is dit nie waar nie. Dit is net ‘n mite.

Dit is ‘n mite, want eintlik weet ons glad nie watter tipe boom of vrug dit was nie. Ek weet nie of jy al ooit opgelet het nie, maar die Bybel sê nie vir ons dat dit ‘n Appel boom of enige tipe boom was nie behalwe dat dit ‘n boom was, met vrugte en hierdie boom was die boom van kennis van goed en kwaad.

“Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.”

Gen. 2:9

Voorstelle vir watter vrug dit kon wees

Daar is ‘n paar voorstelle of teorieë oor watter vrug dit kon gewees het. Dit is tipies in die Westerse wêreld waar mense dink dit was ‘n Appel gewees. Ander voorstelle is dat dit dalk vye was, omdat Adam en Eva kort nadat hulle die vrug geëet het klere van vye blare gemaak het (Gen. 3:7). Ander dink weer die vrug was ‘n granaat gewees. Moontlik omdat dit ‘n bekende vrug was in die streek waar ons glo die Tuin van Eden moontlik kon gewees het. Daar is ook ‘n voorstel dat dit druiwe was, as gevolg van die Boek van Enoch (‘n boek wat nie as deel van die Bybel aanvaar word nie) wat die vrug beskryf as iets soortgelyk aan druiwe. Twee ander voorstelle is graan en sampioene.

So hoe nou?

Gaan lees die verse in Genesis 2 weer self deur en kyk of jy kan sien watter tipe vrug dit is. Jy gaan waarskynlik nie sien dat dit ‘n Appel of iets is nie, maar net as ‘n vrug beskryf word. Volgende keer gaan jy vinnig oplet as iemand anders na dit verwys as ‘n Appel 🙂

Seën vir jou,
Riaan

Beproewings is baie lekker! Stem jy nie saam nie? Dit is lekker om swaar te kry en te sukkel, dit is lekker om angsbevange te wees, dit is lekker om onsekerheid te hê vir wat vorentoe gaan gebeur en dit is lekker om te weet ons word soos ‘n tandepasta buisie gedruk… of is dit?

Ek dink daar is min mense wat werklik uitsien na beproewings, maar ek glo dat ons as Kinders van die Here nie moet bang wees vir beproewings nie. Ja, beproewings is nie maklik of lekker nie, maar as ons weet wat die doel van beproewings is dan sal dit ons in staat stel om dit in ‘n positiewe lig te sien.

Voordat ons kyk na hoe ons beproewings moet hanteer en hoe God en die Bybel ons daarmee help dan moet ons besef dat daar twee tipe beproewings is.

2 Tipe Beproewings

Daar is baie beproewings wat ons deur die loop van die lewe ervaar en ons kom dit op ‘n daaglikse basis teë. Alhoewel beproewings in baie verskillende vorme kan kom, is daar is basies 2 tipe of vorme van beproewings.

Die eerste tipe beproewing kom van God af en die doel van hierdie beproewings is altyd om ons geloof te versterk. Dit is positief omdat dit ons help om Geestelik te groei en volwasse te word. Dit kweek volhading en help ons om sterk te staan wanneer beproewings oor ons pad kom. Ons lees dat ons moet uitsien na die eerste tiepe beproewing:

“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Jak. 1:2-4

Nog ‘n voordeel van hierdie tiepe beproewings is dat dit ons in staat stel om ander te kan bemoedig wat deur beproewings gaan. Paulus beskryf dieselfde gedagte wanneer hy na die lewe van die apostels verwys:

“As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.”

2 Kor 1:6

Ons lees ook van die tweede tiepe beproewing in Jakobus:

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.”

Jak 1:12

Die tweede vorm van beproewing word as ‘n versoeking beskryf. Dit is van Satan af en die doel van hierdie beproewing is om ons in sonde in te lei. Dus word die woord versoeking eerder gebruik. Beproewinge en versoekinge beteken basies dieselfde, maar die eerste het ‘n positiewe konnotasie en die tweede negatief.

Dieselfde Griekse woord word vir beide beproewing (Jak 1:2) en versoeking (Jak 1:12) gebruik en dit is πειρασμός (peirasmos). Dit kom van ‘n werkwoord om te toets af. Soos ons die Bybel lees, dan lees ons dat ons op verskillende maniere getoets word, maar dat die toetse verskil.

Jakobus het heel moontlik ingesien dat ons die twee dalk kan verwar en daarom maak hy dit duidelik dat as ons ‘n negatiewe toets (soos versoekings) in die gesig staar, dat dit nie van God af kom nie.

“Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.”

Jak. 1:13

Daar is hoop

Dit maak my bly om daaraan te dink dat wanneer dinge skeefloop en ek beproef word dat dit ‘n geleentheid is om te groei en om te volhard. As dit van die Here af kom, dan kan ek uitsien daarna omdat dit tot my voordeel is.

Maar watter belofte hou daar vir my in as ek versoek word? Moet ek daarna ook uitsien? Ja, ek moet! Dit is ‘n geleentheid om standvastig te bly, en die standvastigheid sal God se seën in my lewe dra, maar ek kan ook hoop hê omdat ek weet God belowe dat geen versoeking te veel sal wees nie:

“Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”

1 Kor. 10:13

Vriende, staan sterk in beproewings en versoekinge. Hou jou oë op God gerig en moet nie die duiwel ‘n houvas in jou lewe gee nie. As jy die toets deurstaan, sal jy nie net jouself red nie, maar jy sal in staat wees om ander te kan bemoedig wat deur beproewings gaan.

Seënwense,
Riaan

Ek is besig om deur die brief van Jakobus te werk en daar is menigte beelde in die brief. Een van die beelde wat die sterkste uitgebeeld word is dié van die tong. Die tipe beeldspraak in Jakobus 3:1-12 wat ons raaklees is ‘n metafoor. ‘n Metafoor, as ek nou reg kan onthou van skool se dae af, is om ‘n vergelyking te tref met een ding teenoor ‘n ander.

Ons lees in Jakobus 3:3-4:

“Vir perde sit ons ’n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ’n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.”

Hier kan ons sien die tong word met drie dinge vergelyk: ‘n stang in ‘n perd se mond, ‘n klein roer van ‘n skip en ‘n vuur. Wat die beeldspraak in hierdie teks doen is om ons te help om te verstaan hoe kragtig en gevaarlik die klein tong kan wees. Dit sit ‘n baie abstrakte en dalk komplekse idee op ‘n meer verstaanbare vlak. Al drie van hierdie beelde verduidelik dieselfde konsep: iets so klein soos die tong, het baie groot mag of invloed.

3 Redes hoekom die Bybel beeldspraak gebruik

Daar is baie redes hoekom beeldspraak in die Bybel voor kom en ek wil nie nou in diepte na elkeen kyk nie, maar wat ek wel wil doen is om net drie gedagtes uit te lug oor hoekom beeldspraak belangrik is en hoekom ons daarvoor moet oplet.

  1. Dit is makliker om te onthou
  2. Dit is makliker om te verstaan
  3. Dit maak abstrakte en moeilike konsepte meer konkreet.

Die Woord van God as ‘n Swaard

Wanneer ons beeldspraak gebruik, dan word ons verbeelding geprikkel en dit maak dat ons ‘n beeld of storie makliker kan onthou. Een van my gunsteling beelde wat ek onthou en na terugverwys om te verduidelik hoe die Woord van God is, is dié van die twee snydende swaard. As ek aan God se Woord  dink, dan dink ek aan ‘n baie skerp swaard. Hebreërs 4:12 praat van die Woord van God as ‘n baie skerp swaard:

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Heb. 4:12

So as ek jou vra waarvoor is ‘n swaard nuttig, of wat is sy doel dan kan ek aan ‘n paar goed dink. Ek gebruik ‘n swaard om mee te veg; om myself mee te verdedig teen die vyand; om gereg te handhaaf; om dalk iets mee te sny. Net so het die Woord van God ook waarde om in ons lewens in te sny en sonde uit te haal (Lees meer hieroor).

‘n Paar wenke

Wanneer jy Bybelstudie doen en die Bybel lees, fokus ‘n bietjie meer op die beeldspraak wat gebruik word en jy mag dalk verbaas wees hoe kragtig beeldspraak kan wees om ‘n boodskap oor te bring. Ons lees al té gou oor beeldspraak en mis uit op die wonderlike boodskappe en lesse wat die Vader vir ons wil leer.

Daar is ‘n ou boekie wat eerste in 1898 geskryf is deur E.W. Bullinger met die naam Figures of speech used in the Bible. Hierdie naslaan boekie is baie waardevol omdat dit die beeldspraak in die Bybel help verduidelik, veral in die konteks van die oorspronklike skrywers en leses. Die nuwer opgedateerde weergawe kan bv. op Amazon en Kindle gevind word. Daar is baie ander opsies, hierdie is maar net een voorbeeld wat vandag nog relevant is en hoog geprys word.

As jy enige navrae het, vul gerus die kontak vorm in.

Die Here seën!
Riaan

Het jy al ‘n operasie ondergaan? Jy word vol naalde gedruk, op ‘n drip gesit en dan op ‘n bed met wiele in die operasie kamer in gestoot waar ‘n klomp dokters met maskers vir jou staan en wag…

…in sulke oomblikke kry ek ‘n benoude gevoel!  As jou operasie enigsins soos my ervaringe was, dan was dit glad nie aangenaam nie. Gelukkig word ek dan deur die dokters gerus gestel en verseker dat alles goed sal verloop.

Ons ervaar dieselfde in ons Geestelike lewe. Wanneer ons tyd spandeer in die Woord van die Here, dan word ons ook op ‘n manier geopereer. Noem dit maar ‘n Bybelse operasie wat ons ondergaan.

In Hebreërs 4:12 lees ons:

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Die Woord van God is soos die dokter se skalpel. Dit is baie skerp en word gebruik om al die kwaadaardige goed in ons geestelike liggaam uit te sny. Wanneer ons tyd spandeer in die Woord en dit bestudeer, dan word ons gedagtes beoordeel. Dit praat met ons as ons met verkeerde goed besig is en dit help ons om Geestelik sterk en gesond te word.

As ons baie tyd in die Woord spandeer, dan sal ons geloof versterk word, ons verhouding met die Vader versterk word en ons sal geestelik groei.

Ek wil jou aanmoedig, kom daagliks in die Woord en laat die Heilige Gees toe om jou van binne af te verander.

“…maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe…”

Rom. 12:2

Seënwense,
Riaan

Ons mans is lief daarvoor om te droom en ons gedagtes kan baie keer ook lekker op hol jaag.

Toe ek op hoërskool was het ek hierdie een spesifieke droom gehad in klas. Wanneer die klas so bietjie vervelig geraak het, het ek by die venster uit gestaar en my verbeel hoe daar ‘n paar swart voertuie aangejaag kom en buite die klas stop saam met ‘n swart helikopter wat aangevlieg kom en langs die karre land. Almal kyk verras by die venster uit soos daar ‘n klomp manne uit klim wat swaar gewapen is in swart pakke en hulle kom in die skool in en stap reguit na my klas toe en dan tot almal se wonder roep hulle vir my en sê: Riaan, ons het jou nodig! Kom, maak gou! En dan soos ek daar opspring word daar vir my ‘n koeëlvaste baadjie gegooi, ‘n radio word in my oor gedruk, ‘n skerp skut geweer in die hand en dan is ek daar saam met hulle weg. Ek verbeel hoe my maats die volgende dag sal reageer en hoe almal so baie vrae gaan hê.

My drome was wild en ek was altyd ‘n HERO wat die wêreld wil red. Dit was baie pret, maar die probleem was dat dit nie realisties was nie en die Here was nêrens in hierdie drome nie. Natuurlik, min wetende dat ek wel eendag die wêreld sou probeer red, maar op God se agenda en nie myne nie. Dit is wel ‘n storie vir ‘n ander dag.

Op ‘n manier het ons elkeen al sulke wilde drome gehad. Dis nie noodwendig verkeerd om sulke onrealistiese drome te hê nie, want dit is tog net drome, maar wanneer ons drome ons gedagtes oorheers en dit wat in ons gedagtes heers nie Goddelik is nie, dan kan dit ons van die Here af weg dryf – dis wanneer dit ‘n probleem kan word.

Gedagtes bepaal ons aksies en rigting in die lewe.

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, 
want dit bepaal jou hele lewe.”

Spr. 4:23

Wanneer die Bybel praat van wat in ons hart omgaan, dan verwys dit na wat in ons gedagtes / denke en drome is. As ek die heeltyd oor geld droom en geld soek dan gaan dit maak dat ek baie hard werk wat dalk kan maak dat ek my familie, kinders of vriende afskeep – dit kan selfs maak dat ek die Kerk en die Here afskeep. Dit mag dalk selfs my in die versoeking bring om kort paaie te soek tot rykdom. As ek die heeltyd oor mooi vrouens droom en my gedagtes met die verkeerde goed voed, dan gaan dit maak dat ek eendag maklik kan struikel.

Ons gedagtes bepaal ons lewe deurdat dit ons besluite en redenasies beïnvloed.

What a wee little part of a person’s life are his acts and his words! His real life is led in his head, and is known to none but himself. All day long, the mill of his brain is grinding, and his thoughts, not those other things, are his history.

Mark Twain

Ons gedagtes is die dryfkrag agter ons aksies. Dit is ons gedagtes wat bepaal die tiepe mens wat ons is. Ongelukkig kan ons ons gedagtes nie vertrou nie, want ons natuur is sondig van aard en die hart is vuil.

“Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes.”

Mark 7:20

Die gedagtes van die hart is van nature sleg. Ons is sondaars en partykeer kan ons dit nie keer nie, maar dit bly nie ‘n verskoning nie. In Christus kry ons ‘n nuwe natuur, want ons word ‘n nuwe mens in die Here wanneer ons van ons slegte gewoontes en lewe bekeer. Kol. 3:5-11 praat van hoe ons die aardse dinge en die vlees moet dood maak en die ou lewe agter ons moet sit omdat ons ‘n nuwe lewe leef in Christus Jesus. Dit is Jesus wat ons daagliks vernuwe om meer en meer soos hy te word.

“Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”

Jak. 1:14-15

Hierdie laaste paar verse maak dit duidelik dat sonde nie net ‘n aksie is nie, maar dat sonde in die hart eers voorkom. Daarom, vriende, moet ons versigtig wees met wat in ons hart om gaan en wat in ons gedagtes en drome is.

Wat bepaal jou lewe?

Dit wat jy jouself mee voed, deur wat jy lees en kyk, het ‘n invloed op wat in jou hart omgaan. Waarmee voed jy jouself? Kyk jy verkeerde goed wat jy weet jy nie behoort te kyk nie? Luister jy na musiek wat dalk nie die Here eer nie? Hoe baie tyd spandeer jy in die Woord van die Here?

2 Kor. 2:15 sê dat ons elke gedagte gevange moet neem. Dit beteken dat ek my gedagtes en drome onder die gesag van die Here Jesus moet plaas en dit in lyn moet bring met die Woord van God. Paulus skryf in Romeine 6:22 dat ons vrygemeek is van die sonde, ons is vry! Wanneer ons in Christus is dan word ons deur Hom geheilig.

Ek weet nie wat in jou gedagtes aan gaan nie, maar die Here weet. Hy weet wat in die donkerste hoeke van jou hart omgaan. Hebreërs 4:13 sê vir ons

“Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”

en vers 12 gee vir ons ‘n oplossing:

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”

Vernuwe jou gedagtes en hou dit rein

Ek wil jou bemoedig: kom in die Woord en laat God toe om jou gedagtes te vernuwe. Dawid het baie gesondig, maar hy was tog ‘n man na God se hart. Ten spyte van sy sonde het hy geweet wat die oplossing is en daarom gee hy vir ons die volgende raad:

Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!

Ps. 119:9

Wat in jou hart om gaan, bepaal die pad wat jy gaan loop. As ons dit vul met die Woord van die Here, dan sal ons elkeen volgens die wil van God lewe en die pad stap wat Hy vir ons bepaal het.

Die Here seën,
Riaan

Liefde vir mense en liefde vir God. Daar is ‘n sterk konneksie tussen die twee en dit is iets wat ek nogal gereeld aan dink: hoe baie hulself Christene of Kinders van God noem, maar hulle is nie lief vir mense nie. Hulle sê dit nie dalk so pertinent nie, maar as ek na hul optrede kyk teenoor ander mense dan is dit duidelik dat daar ‘n tekort aan liefde is.

Dit is seker ‘n sterk stelling om te maak, maar nogtans dink ek is dit ‘n geldige een. Jy sien, daar is baie mense wat God probeer dien en wie gelowig is, maar as ons mooi na hul kyk en luister dan kan ons partykeer hoor en sien dat daar iemand in die persoon se lewe is wat die persoon verafsku, nie kan verdra nie of dalk iemand wat hul nie kan vergewe nie en ‘n wrok teen die persoon koester. As dit die geval is, dan is daar fout.

Ek is besig om deur 1 Johannes te lees en dit is opmerklik hoe gereeld en hoe direk Johannes skryf dat as ons in God is dan moet ons mense lief hê. As ons iemand nie kan liefhê nie, dan is God se liefde nie in ons nie en dan het ons nie ‘n werklike verhouding met die Here nie.

Neem die volgende 2 verse as voorbeeld:

“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”

1 Joh. 4:7-8

Wanneer ek hierdie verse lees dan laat dit my amper ‘n bietjie skrik, want ek besef dat daar ‘n groot verantwoordelikheid op my rus om my medemens lief te hê. Die verse maak dit duidelik dat liefde van God af kom. As ek nie God ken nie en nie ‘n verhouding met Hom het nie, dan het ek en ken ek nie liefde nie.

Dit is maklik om te sê dat ons as mense die vermoë het om lief te wees vir ander sonder God, maar is dit werklike liefde? Wat van as die persoon vir wie jy lief is, alles van jou af weg vat? Wat van as die persoon vir wie jy lief moet wees jou ma, pa of kinders vermoor? Wat van as die persoon vir wie jy lief moet wees dalk jou in die rug gesteek het, vir jou gejok het of jou te na gekom het? Nou praat ons van ‘n ander prentjie – nie waar nie?

“Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.”

Kol. 3:13

Hierdie vers maak dit duidelik dat ons ‘n verantwoordelikheid het om ander mense te moet vergewe. Ja, die “julle” mag dalk spesifiek praat van ander gelowiges, maar Jesus leer vir ons dat ons selfs ons vyande moet liefhê! Dit is so te sê onmoontlik, maar nie as ons God ken nie.

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg.”

Mat. 5:43-44

Sjoe! Om vir elke mens lief wees is nie normaal nie! Wel ek kan nie dink dat dit is nie, maar wanneer ons die Vader ken en ons weet waarvan ons gered is en hoe baie God my liefhet, dan het ek geen verskoning of rede om ander mense nie lief te hê nie.

Vra jouself af

Het ek alle mense lief? Of net dié met wie ek oor die weg kom of van wie ek hou? My geloof en verhouding met die Here word hieraan getoets: het ek alle mense lief?