3 Kenmerke van ware liefde

3 Kenmerke van ware liefde

My ouma het die ander dag vir my gevra: “wat is liefde?” Ons was besig gewees om te gesels oor die kort briewe van Johannes (1,2 en 3 Johannes) en die klem wat Johannes op liefde sit. Ek het duidelik nie aandagtig gelees nie, want toe sy my vra wat liefde is – het ek vir ‘n oomblik vas gehaak.

Ek gaan toe weer deur 1 Johannes 3:11-17 en daar is 3 of 4 kenmerke van ware (of egte) liefde. Toe ek die 3 of 4 kenmerke vinnig bestudeer toe maak dit vir my meer sin en ek hoop dat dit vir jou dalk ook sal help!

“Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.” 1 Joh 3:11

Daar word klem geplaas op liefde vir mekaar. Johannes sê dat ons nie soos Kain moet wees nie. As jy die storie van Kain en Abel onthou, dan sal jy onthou dat Kain jaloers was op Abel omdat God Abel se offergawe aanvaar het, maar nie Kain s’n nie. Kain het sy broer toe begin haat en vir Abel uiteindelik toe vermoor… Nou, Johannes sê ons moet nie haat nie – liefde en haat gaan nie hand in hand nie.

3 Kenmerke van ware liefde

So hoe lyk ware liefde? As ek sê ek het mense lief en ek het egte of ware liefde, dan moet ek hierdie kenmerke hê:

1. Ek mag nie haat nie (1 Joh 3:15)

Haat – dit is ‘n groot woord daardie! Johannes verduidelik dat as ons ware liefde in ons hart het, dan kan ons nie (ons mag nie!) ons broers (of susters) haat nie. As iemand sy broer haat dan is hy ‘n moordenaar (1 Joh 3:15). Kain het gehaat en dit het uitgeloop op moord. Johannes maak immers duidelik dat haat gelyk aan moord is en moordenaars sal nie die Koninkryk van God erf nie. Die implikasies van haat is huge! Dit druis teen alles wat liefde voor staan.

2. As ek bereid is om my lewe vir ‘n ander af te lê (1 Joh 3:16)

Johannes skryf dat ons weet wat liefde is as gevolg van die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het – om Sy lewe vir ons neer te lê. As ons Kinders van God is en dissipels van Jesus is, dan beteken dit mos dat ons in sy voetspore moet volg. Daarom moet ons ons lewe vir ons broers en susters in Christus ook kan af lê. Nie baie mense is gewillig om dit te doen nie. Om jou lewe vir iemand te gee beteken nie net dat ons hulle dien, of help, of ‘n nier voor skenk nie, maar ons moet gewillig wees om ons lewe neer te lê of te ruil. ‘n Eenvoudige voorbeeld: die boot is besig om te sink en dit is jy en iemand anders. Daar is net kans om een persoon te red. As jy die ander persoon eerste laat gaan dan sal dit wees vanuit ‘n posisie van liefde en nie selfsug nie.

3. Om dié wat swaar kry te help terwyl ek in ‘n posisie is om te help (1 Joh 3:17)

Omgee vir ander en vir die wat swaar kry is ‘n belangrike kenmerk van ware liefde. Nie net moet ek vir die wat swaar kry probeer help nie, maar ek moet meegevoel vir hulle hê. In 1 Johannes 3:17 lees ons dat as ons iets het en ons broer het nie, dan moet ons meegevoel hê vir hom. Dit beteken dood eenvoudig dat as ek kos het en ‘n broer of suster het nie kos nie, dan moet ek met hulle deel. Dit beteken selfs, as ek in staat is om te deel (m.a.w. ek het 2 appels) dan moet ek deel (1 appel weg gee). Hierin word my liefde wat God in my hart gesit het getoets – hierin word my geloof ook getoets, want deur te gee, al het ek ook min, sit ek my vertroue in die Here en nie in my eie besittings nie.

Liefde en geloof gaan hand-in-hand. As ek geloof het en glo, dan sal ek ook liefde hê vir my naaste en my medemens. My geloof, sonder aksie en meegevoel vir my naaste, is dan dood. Het jy hierdie kenmerke in jou eie lewe? Is jy bereid om jou lewe vir jou medemens neer te lê? Is jy bereid om met ander wat swaar kry te deel? En laastens, koester jy haat of woede in jou hart teenoor iemand?

Mag hierdie 3 kenmerke in jou lewe sigbaar word sodat ons Here Jesus Christus verheerlik kan word!

Die Here seën,
Riaan